Back to blogs+

Blogs

10 Koei vrou...

Wanneer ek ‘n man sien wat nie sy vrou op die hande dra nie, of selfs net hard met haar praat, of wanneer ‘n vrou nie trots van haar man praat nie, dan kom daar ‘n onbedwingbare begeerte by my op om vir hom of haar te sê:

“Jy behoort te weet hoekom Johny Lingo 10 koeie vir sy vrou betaal het.”

Toe ek destyds deur die Sentrale Amerika’s getoer het, wou ek die eiland Kiniwata besoek. Terwyl ek op pad was daarheen, het ek op ‘n kleinerige naburige eiland oorgeslaap. Daar het ek gevra wie sou hul aanbeveel om my te help op Kiniwata. Almal het Johny Lingo aanbeveel: Hy sou my die beste en goedkoopste losies bied, wys waar die vis die beste byt, my help onderhandel om die meeste afslag op pêrels te kry. Daarby besit hy ‘n hele klomp ondernemings wat hy self bedryf. Almal het hom hoog aangeskryf, ‘n eerlike, hardwerkende jong entrepreneur!

Maar, wanneer hul van hom praat, gee almal so ‘n skalkse laggie --- so half spottend.


Toe iemand my weer vertel hoe goed Johny kan onderhandel, bars ‘n jong man daar naby uit van die lag! “Wat is dit?” vra ek, “vertel my ook die grap!”

“Johny Lingo mag miskien die slimste en die sterkste, en vir sy ouderdom, die rykste van ons almal hier op die eilande wees,” sê die man, “maar vyf maande gelede, net na die lentefees, het Johny vir hom ‘n vrou hier op ons eiland kom haal --- maar hy het tien koeie aan haar pa betaal!”

En weer bars die jong man uit van die lag!

Ek was beïndruk. Teen die tyd het ek al genoeg van die eilanders se gewoontes geweet om te weet dat dit heeltemal te veel vir ‘n vrou is: Twee of drie koeie sou ‘n redelik goeie gemiddelde vrou kan koop, vier of vyf sou die mooiste en hoogs bevredigende vrou in jou huis kon inbring.

“Sjoe!” roep ek uit, “sy moet die mooiste vrou op aarde wees!”

“Wel, sy’s nou nie eintlik lelik nie, maar niemand sal twee keer na Sarita kyk nie. Haar pa was eintlik bang dat hy met haar opgeskeep sou sit!”

“Maar tog het hy tien koeie vir haar gekry?”

“Dis nog nooit voorheen betaal nie.”

“Maar jy sê niemand sou in haar belang stel nie?”

“Sy is brandmaer, loop altyd kop-onderstebo met hangskouers. Skaam en bang vir haar eie skaduwee.”

“Wel,” sê ek, “seker maar ‘n saak van die liefde wat blind is?”

“Seker so,” stem die jong man saam, “ en dis hoekom ons almal so dik van die lag is oor Johny. Ons geniet dit dat die slimste jong man op die eiland deur ou Dom Sam ore aangesit is. Niemand weet hoe dit gebeur het nie, maar die hele familie het Sam geadviseer om hoog te begin met twee koeie en vas te byt tot hy seker is Johny sal darem een koei of selfs net ‘n kalf vir Sarita opdok. Maar toe kom Johny en hy bied sommer aan sonder om te onderhandel: ‘Vader van Sarita, ek bied jou tien van my beste koeie aan vir jou dogter.’ ”

Ek was verbaas. Hierdie Johny Lingo wou ek verséker ontmoet!

Die volgende oggend vroeg is ek oorgeneem na Kiniwata. Met die uitvra na Johny se blyplek, val ‘n groot verskil my dadelik op: Niemand op hiérdie eiland

lag oor Johny nie! Tewens, ek bemerk nog meer respek vir hom as op die vorige eiland, en toe ek die lenige, intelligente jong man ontmoet, is ek vir sy part bly dat hy hier op sy eie eiland darem gerespekteer word.


Hy’t my ingenooi in sy koel huis en ons het lekker gesels. Skielik vra hy:

“Was jy op ons buur-eiland?”

“Ja.”

“Wat sê hulle daar van my?”

“Hulle sê jy’s die man wat my met alles hier op Kiniwata kan help” –probeer ek die waarheid ontwyk.

Terwyl hy skaam glimlag, sê hy: ”My vrou Sarita kom daarvandaan.”

“Ja, ek weet.”

“Wat sê hulle van haar?”


Die vraag vang my onkant: “Hulle sê julle het vyf maande gelede getrou.”

“Niks meer nie?” Ek kan sien hy weet ek vertel nie die volle waarheid nie!

“Hulle sê ook jy het tien koeie vir haar betaal.” Ek wag ‘n bietjie.

“Hulle wonder almal hoekom,” kry ek dit uit.

Die plesier in sy oë is duidelik sigbaar: “O, wonder hulle oor die prys?”

Ek knik bevestigend.

“Hier op Kiniwata weet almal ook!” Sy bors swel van trots. “In die toekoms, wanneer mense oor die prys van ‘n bruid sal praat, sal almal onthou dat Johny Lingo tien koeie vir Sarita betaal het!”

O, dag ek, hier’s die antwoord: Ydelheid!

Toe sien ek haar: Sy kom die sitkamer stadig binne om blomme op die tafel te sit. Voor sy uitstap, glimlag sy ‘n oomblik vir Johny.

Sy was die mooiste vrou wat ek nog gesien het! Die regop skouers, die hoek van haar ken, die vonk in haar oë, alles wys op ‘n rotsvaste selfbeeld!

Ek voel Johny se ondersoekende oë op my. “Is sy vir jou mooi?”

“Sy … sy’s fantasties! Maar sy’s tog nie die Sarita van die buur-eiland nie?

”Daar’s net een Sarita. Miskien lyk sy net nie soos wat hulle haar beskryf nie.”

“Hulle sê sy is baie eenvoudig, skaam, … niks om na te kyk nie. Hulle maak grappe oor jou en sê jy het jou laat verneuk deur Sam.”

“Dink jy tien koeie was te veel vir haar?” glimlag hy.

“Nee, sy’s dit werd! Maar hoe kon sy so verander het?”

”Kan jy jou dit indink,” vra hy, “ wat dit beteken vir ‘n vrou as sy weet haar man het vir haar die minste betaal wat hy kon?

Wanneer die vrouens bymekaar is en hul spog oor wat hul mans vir hul betaal het, sal een sê sy het 3 koeie gekos, ‘n ander sal sê haar man dink so baie van haar hy het 5 koeie betaal.

Hoe dink jy, wat moet die vrou van haar self dink wat een of 2 koeie gekos het?”

“Het jy dit net gedoen om Sarita gelukkig te maak?”

“Onder andere. Ek wil haar gelukkig hê, ja, maar ek wil meer hê as dit. Jy sê sy’s anders. Dis waar. Baie dinge kan ‘n vrou verander: die innerlike of die uiterlike. Maar wat die meeste saakmaak, is wat sy van haar sélf dink. Op die buur-eiland het Sarita geglo sy is nie veel werd nie. Maar nou weet sy dat sy meer werd is as enige ander vrou op al die eilande!

“Ek het nét vir Sarita lief … ek wou net met haar getrou het --- maar ek wou óók ‘n tien koei vrou gehad het” eindig hy sag.

Share it!


Please login to comment

  • Stunning!!! DIs wat mens liefde noem!
    wildhot40 - Posted 52 months ago

Meet the Blogger

More From this User